Groep Struktuur

Bestuurstruktuur

Sosiale & Etiese

Finansiële Verslae

Loopbane

Lidmaatskap

Oor Ons

Sentraal-Suid Koöperasie Bpk bedryf sake in die Wes- en Suid-Kaap asook in die Langkloof en Karoo.  Die SSK hoofkantoor is geleë in die skilderagtige dorp, Swellendam. Die onderneming is in 1931 gestig en dien al vir meer as 80 jaar sy lede as ʼn koöperasie; steeds die mees geskikte ondernemingsvorm om sy lede se belange te bevorder.

Getrou aan sy missie, nl. Om met behoud van stabiliteit die welvaart en voortbestaan van die organisasie en sy lede deur groei en diversifikasie te bevorder, streef SSK daarna om insetkoste laag te hou, ‘n wye verskeidenheid produkte en dienste van uitstekende gehalte te lewer en lede by te staan in die bemarking van hulle produkte. Dit word gedoen deur Versekeringstakke op Swellendam, Heidelberg, Riversdal, Mosselbaai en Avontuur, 22 AgriLand Handelstakke , volledige werkswinkels te Swellendam, Heidelberg en George asook Graanopbergings depots te Swellendam, Heidelberg, Karringmelksrivier, Protem, Krombeksrivier, Ashton, Riversdal, Albertinia en Herold.

SSK se netto wins uit transaksies met lede word in die vorm van bonusse (langtermyn en kontant) proporsioneel tot die onderskeie lede se kwalifiserende omset met die onderneming verdeel.

SSK se betrokkenheid by sy filiale en geassosieerdes is die gevolg van ‘n voortgesette ingesteldheid om besighede in die streeksgebaseerde landbou waardeketting op te rig. Ten einde diversifikasie te bewerkstellig word beleggings buite die primêre landbou ook op ‘n voortdurende basis oorweeg. Sien ons Groep Struktuur bladsy vir ‘n volledige lys van ons filiale en geassosieerdes.

SSK finansier landbou insette en implemente teen uiters mededingende voorwaardes en ʼn span landbouvoorligters lewer gratis akkerboukundige, veekundige en landbou-ekonomiese dienste.

Getrou aan sy leuse van “Werk saam Wen saam” ondersteun SSK die beginsel dat die resultaat van samewerking beter is as die somtotaal van individuele prestasies. SSK se direkteure, bestuur en personeel het dus hulle oor op die grond ten einde te verseker dat die onderneming voldoen aan die wense van die lede en die gemeenskap.