Landboudienste

Landbou Artikels

Page 1 of 2  > >>

Wednesday, 23 September

Ergot vergiftiging word veroorsaak deur die swam Claviceps purpurea wat tydens nat toestande  gedurende die lente uit ergot liggaampies (sklerotia) ontwikkel...

Thursday, 07 January

As ons kyk na die bydrae van verskillende plantdele tot opbrengs is dit baie belangrik om dié plantdele gesond te hou om maksimum opbrengs en ‘n goeie kwaliteit  produk te verseker.

Tuesday, 13 October

Canola-verbouing vereis redelike bestuursinsette om sukses te waarborg.

Friday, 14 August

Die belang van korrekte voeding tydens laatdragtigheid en laktasie.

.

Korrekte voeding tydens vroeë- en mid dragtigheid is uiters belangrik om die korrekte fondament te lê sodat die ooi en fetus optimaal kan reageer op voeding tydens laat dragtigheid. Die korrekte voeding van die ooikudde tydens laatdragtigheid en laktasie is uiters belangrik vir optimale produksie en reproduksie van die kudde. Voedingstatus van die ooi tydens laatdragtigheid (Dag 90 – 150) is belangrik vir:

Fetusgroei

Uier ontwikkeling

Lamoorlewing

Wolproduksie

Reproduksie

Fetusgroei

Vyf en tagtig persent van die fetusgroei  vind in die laaste 8 weke, 70 % in die laaste 6 weke, 50 % in die laaste 4 weke en 25 % in die laaste 2 weke van dragtigheid plaas. Dit beteken die fetus van ‘n lam wat 5 kg met geboorte weeg moet  4.25 kg in massa toeneem gedurende die laaste 8 weke van dragtigheid.  Afhangend van die massa, ouderdom en die aantal fetusse moet ‘n ooi  se massa 5 – 12 kg tydens die laaste 2 maande van dragtigheid toeneem. ‘n Riglyn vir massa toename van dragtige ooie gedurende die laaste 8 weke van dragtigheid is:

Jongooie met enkeling fetus – 8. 5 %. ‘n Sestig kg jongooi moet dus 5.1 kg toeneem (91 g/d)

Jong ooie met tweeling fetusse – 12.5%. ‘n Sestig kg jongooi moet dus 7.5 kg toeneem (134 g/d)

Ooie met enkeling fetus – 10 %. ‘n Vyf en sestig kg ooi moet dus 6.5 kg toeneem (116g/d)

Ooie met tweeling fetusse – 18 %. ‘n Vyf en sestig kg ooi moet dus 11.7 kg toeneem (209 g/d)

Swaar gesonde lammers is van kardinale belang vir lamoorlewing. Lammers moet tussen 3. 5 – 5.5 kg - volgens plaaslike navorsingsresultate - tydens geboorte weeg om maksimum lamoorlewing te verseker en tussen 4 – 6 kg volgens Australiese navorsing. Sewentig tot vyf en sewentigpersent van die totale energie opgesluit in die pasgebore lam is in die vorm van proteïen, daarby bevat die eerste bies ongeveer 20 % proteïen. Dit is dus voor die handliggend dat ‘n laatdragtige ooi ‘n hoë proteïenbehoefte het.  Aangesien mikrobieseproteïen (proteïen afkomstig van mikrobiese produksie in die rumen) nie genoegsame proteïen verskaf om in die behoefte van die ooi tydens laatdragtigheid te voldoen nie, is die aanvulling van deurvloeiproteïen (proteïen wat afbraak in die rumen vryspring) van kardinale belang om die tekort aan proteïen aan te vul. Aanvulling van deurvloeiproteïen is veral belangrik as die energie inhoud van die dieet sub-optimaal is en het veral ‘n groot effek  waar weidings van swak kwaliteit is ten opsigte  van verteerbaarheid en beskikbare droë materiaal. ‘n Erge en skielike beperking van voerinname aan die begin van die laaste maand van dragtigheid kan fetusgroei met 30 – 40% binne 3 dae laat daal.

Uier ontwikkeling

Goeie uier ontwikkeling is uiters belangrik en begin ongeveer 5 weke voor lam met die meeste ontwikkeling tydens die laaste 3 weke van dragtigheid. Uier ontwikkeling is ongeveer 25 % meer by ooie met tweeling fetusse teenoor ooie met ‘ n enkeling fetus. Ontwikkeling van die uier is direk afhanklik van die hoeveelheid proteïen wat die laer spysverteringskanaal bereik en genoegsame deurvloei proteïen aanvulling speel dus ook by uier ontwikkeling ‘n belangrike rol.  

Die ooi se proteïenbehoefte neem met 50 % toe 2 weke voor lam teenoor 6 weke voor lam as gevolg van die toename in fetus groei, uier ontwikkeling en biesproduksie.

Die proteïenbehoefte van laatdragtige ooie:

                                Degradeerbaar                 Verbyvloei          Totaal

6 weke                 108 g/d                                 11 g/d                   119 g/d

4 weke                 119 g/d                                 14 g/d                   133 g/d

2 weke                 135 g/d                                 44 g/d                   179 g/d

0 weke                 150 g/d                                 55 g/d                   205 g/d

Lam oorlewing

Lae geboorte massa is die grootste oorsaak van vroeë lamvrektes (< 3.5 kg). Ondervoeding tydens laatdragtigheid het ligte lammers en verlaagde biesproduksie tot gevolg. ‘n Tekort aan deurvloeiproteïen veroorsaak dik taai bies wat bies inname verder verlaag. Lammers benodig 210 ml bies/kg liggaamsmassa binne die eerste 8 uur, dit is ongeveer 735 – 1 155 ml. Sewentig persent van lamvrektes vind in die eerste 48 uur plaas en 80 % van die vrektes is verwant  aan die voedingstatus van die ooi tydens laatdragtigheid.

Ooie op ‘n lae voedingspeil tydens laatdragtigheid het ‘n lang geboorte proses en neem langer om op te staan na geboorte. Ooie op ‘n hoë voedingspeil tydens laatdragtigheid, met goed ontwikkelde uiers toon beter moeder eienskappe as ooie op ‘n swak voedingspeil tydens laatdragtigheid met swak ontwikkelde uiers. Deurvloeiproteïen het die grootste effek op die oorlewing van die pasgebore lammers waar laat dragtige ooie ‘n energie te kort ervaar aangesien die ekstra proteïen die geboortemassa van die lammers verhoog. Navorsing toon dat die aanvulling van proteïenbronne wat verblyvloeiproteïn bevat saam met grane lam oorlewing met 12 – 50% kan verhoog.

Wolproduksie

Voeding tydens laatdragtigheid het ook ‘n effek op wolproduksie van die ooi sowel as die  toekomstige wolproduksie van die lam. Dragtige ooie produseer  7 – 18 %  minder wol as droë ooie. Goeie voeding tydens laatdragtigheid kan dié verlies aan wolproduksie verminder. Lammers van ooie wat ondervoed is gedurende laatdragtigheid produseer minder en sterker wol as hul genetiese potensiaal. Primêre wolfollikels (dikker vesels) van die lam ontwikkel van dag 60 – 90 van dragtigheid. Die sekondêre (dunner vesels) ontwikkel van dag 90 tot geboorte. Die digtheid van die primêre en sekondêre wolfollikels bepaal die potensiële wolproduksie van die lam en word geneties bepaal. Die hoeveelheid follikels wat die fetus werklik ontwikkel word deur die voedingstatus van die ooi bepaal en die follikels teenwoordig met geboorte is permanent en kan nie verander word nie. Hoê meer sekondêre follikels ontwikkel, hoe fyner en swaarder is die vag. Goeie voeding gedurende laatdragtigheid kan veseldikte met 0.2 mikron verlaag en skoonvagmassa met 0.1 kg laat toeneem vir elke 0.5 toename in die kondisiepunt van die laatdragtige ooi (1 kondisiepunt verteenwoordig 7 – 10 kg liggaamsmassa afhangend van die ras).

Reproduksie

Goeie voeding gedurende laatdragtigheid het ook ‘n positiewe invloed op die reproduksie van die ooi by die volgende paring sowel as die toekomstige reproduksie prestasie van die lam. Navorsing het getoon ooie wat deurvloeiproteïen aanvulling op koringstoppel ontvang het tydens laatdragtigheid, het  5.5 kg swaarder geweeg en 28 % hoër lampersentasie gehad die daaropvolgende seisoen as ooie wat geen aanvulling ontvang het nie. Jongooie van ooie wat goeie voeding tydens laat dragtigheid ontvang het, het 14 % beter lampersentasie met eerste lam gehad as jongooie wie se moeders op ‘n swak voedingspeil was gedurende laatdragtigheid.

Opsommend

Ooie wat tydens laatdragtigheid ondervoed is:

Gee geboorte aan ligte swak lammers wat meer vatbaar is vir vrektes,

het min of geen bies,

het swak moedereienskappe,

het ‘n lang geboorte proses en

vat langer om op te staan na geboorte.

Laktasie

Goeie voedingstatus tydens laktasie is belangrik vir:

Optimale groei van lammers

Optimale reproduksie van ooie by volgende paring

Goeie voeding tydens laatdragtigheid en laktasie verseker optimale uier ontwikkeling en melkproduksie wat optimale groei van die lam verseker. Goeie voeding verseker dat die ooi in ‘n goeie kondisie lam en ‘n laer massa verlies het tydens laktasie wat positief inwerk op die volgende reproduksieprestasie van die ooi.

Oormatige massa verlies tydens laktasie het ‘n negatiewe effek op die ontwikkeling van follikels wat 180 dae voor die volgende paring begin en ooreenstem met wanneer ooie ongeveer piek melkproduksie bereik. Waar ooie meer as 10% massa verloor het was die daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in sommige gevalle tot 51 persentasiepunte laer.

Australiese navorsing toon dat waar ooie meer as 6 kg in massa verloor het 6 maande voor die volgende paring die ooie 10 % minder tweeling ovulasies gehad het. ‘n Ooi se hitte siklus begin ook al hoe later in die volgende paarseisoen hoe meer massa sy in die eerste ses weke van laktasie verloor het.

Die toelaatbare massa verlies in die 1ste 8 weke van laktasie:

Jongooie wat enkelinge soog     2 % - 60 kg ooi = 1.2 kg

Jongooie wat tweelinge soog     3 % - 60 kg ooi = 1.8 kg

Ooie wat enkelinge soog              4 % - 65 kg ooi = 2.6 kg

Ooie wat tweelinge sooog           7 % - 65 kg = 4.55 kg

Maksimum toelaatbare massa verlies 10% = 6 – 6.5 kg

Goeie voeding behels nie net die verskaffing van genoeg kos aan die ooi nie, dit moet ook gebalanseer wees vir die belangrikste voedingstowwe nl. energie, proteïen en minerale.  Aanvulling van natuurlike proteïenbronne wat deurvloeiproteïen bevat saam met grane is belangrik om optimale melkproduksie te verseker aangesien net soos gedurende laat dragtigheid kan die mikrobiese proteïenproduksie alleen, nie in die hoër proteïenbehoefte van die lakterende ooi  voorsien nie. Navorsing toon dat deurvloeiproteïen saam met grane melkproduksie met tot 55 % kan verhoog

BRONNE

Artikels van Dr. Jasper Coetzee

Voortrek St. 34
Swellendam
6740

T 028-514 8600
F 028-514 8903
E agriculture@ssk.co.za

Besigheidsure
Maandag - Vrydag 07:30 - 17:00

Downloads
Masjien Loopkostes Blitsgids (XLSX | 199 KB)

Ha Gesaai Omsendskrywe 2017 (DOC | 272KB)

Masjinerie Koste Gids (PDF | 1.43MB)

Faktore Wat Kultivarkeuse Beïnvloed (PDF I 213KB)

Korrekte Lek Aanvullings vir Optimale Diereproduksie (PDF I 212KB)