Landboudienste

Landbou Artikels

Page 1 of 2  > >>

Wednesday, 23 September

Ergot vergiftiging word veroorsaak deur die swam Claviceps purpurea wat tydens nat toestande  gedurende die lente uit ergot liggaampies (sklerotia) ontwikkel...

Thursday, 07 January

As ons kyk na die bydrae van verskillende plantdele tot opbrengs is dit baie belangrik om dié plantdele gesond te hou om maksimum opbrengs en ‘n goeie kwaliteit  produk te verseker.

Tuesday, 13 October

Canola-verbouing vereis redelike bestuursinsette om sukses te waarborg.

Thursday, 07 January

Swamsiektes op koring en gars

As ons kyk na die bydrae van verskillende plantdele tot opbrengs is dit baie belangrik om dié plantdele gesond te hou om maksimum opbrengs en ‘n goeie kwaliteit  produk te verseker.

tabel

Soos ons weet kan swamsiektes ‘n produsent se oes nadelig beïnvloed, daarom is dit belangrik om die spesifieke siekte reg te identifiseer. Vervolgens ‘n paar riglyne om die belangrikste swamsiektes in koring en gars te identifiseer en om te kyk onder watter toestande hul floreer.

BLAARROES BY KORING (PUCCINIA RECONDITA) & BLAARROES BY GARS (PUCCINIA HORDEI)

Klein ronde oranje-bruin roespuisies vorm op die blare. Boonste blare word gewoonlik eerste aangetas. Roes swamme oorleef op opslagplante (bv. wildegarsie) en op onverrotte stoppel. Word ook deur wind versprei. Epidemies wat voor of tydens blom plaasvind, is kritiek veral as vlagblaar besmet word. Die getal korrels per aar word verlaag sowel as die grootte. Blaarroes rig meer skade aan by laat kultivars, veral as dit lank koel bly. Die inkubasieperiode duur gewoonlik tussen 6 - 8 uur by ‘n temperatuur van 15 °C - 22 °C. Die skade van bruinroes by gars kan groter wees as by koring.


Puccinia recondite (Blaarroes)

WITROES BY KORING EN GARS (ERYSIPHE GRAMINIS)

Word gekenmerk deur ‘n wit poeieragtige swam wat op blare en/of stam en aar kan voorkom.

Die swam kom gewoonlik eerste op onderste blare voor. Die swam ontwikkel vinnig onder warm vogtige toestande. Digte stande bevoordeel ook die swam. Plante is meer vatbaar gedurende periodes van groei, bv. tydens stamverlenging. Ernstige besmettings kan syhalms laat afspeen. Wanneer koring witroes in die aar kry, verswak sapvloei en dan word dit chemies moeilik beheer.

Die swam oorleef op koringstoppel as mycelium (filamentagtige swamdrade). Witroes is ‘n luggedraagde siekte.


Erysiphe graminis (Witroes)

NETVLEK BY GARS (PYRENOPHORA TERES)

Klein bruin-swart kolletjies kom verspreid op die blare voor. Die swam floreer onder nat asook warmer weerstoestande. Die vernaamste manier van verspreiding is deur reën wat vanaf besmette garsstrooi opspat en die plant se blare besmet. Vanaf die besmette blare beland die swamspore deur wind en reën later op die are. Die siekte is dus ook tot ‘n mate saadgedraagd. In so ‘n geval sal die simptome reeds vroeg op die jong plante sigbaar wees.


Pyrenophora teres (Netvlek) - Koltipe


Pyrenophora teres (Netvlek) - Streeptipe

BLAARVLEK BY GARS (RHYNCOSPORIUM SECALIS)

Bleekgroen, ovaalvormige waterige aaneenlopende vlekke, wat ‘n donker rand buite-om het, is kenmerkend van blaarvlek. Dikwels word die blaar by die blaarskede besmet en daardeur afgesny, sodat die volle voordeel van die blaar verlore gaan. Die siekte kom gewoonlik op die geilste kolle in die land voor. Die siekte kan groot skade in ‘n kort periode tydens reënerige weer veroorsaak. Die swam kan tot twee jaar op stoppel oorleef.


Rhyncosporium secalis (Blaarvlek)

VAALBLAAR (SEPTORIA TRITICI)

Blaarvlekkies kom voor, geel in die begin maar later grys-bruin. Swart spore is duidelik sigbaar (Kenmerk vir uitkenning). Geelvlekkies kom eerste op jong blare voor.


Septoria tritici (Vaalblaar)

BRUINAAR (SEPTORIA NODORUM)

Bruinaar kom voor op beide die aar en blare. Wanneer klimaatstoestande gunstig is, ontwikkel lensvormige vlekke op blare. Op baie vatbare kultivars kan die lensvormige vlekke chloroties en nekroties word. Verskyn gewoonlik 2 - 3 weke voor aarverskyning as toestande gunstig is.

Septoria spp. is saadoordraagbaar en oorleef op stoppel en/of gasheerplante. Blare moet vir 6 - 7 ure nat wees met temperature van 20 °C - 27 °C, voordat infeksie plaasvind. Septoria spp. kom dus redelik laat in die seisoen voor vanaf blom tot stywedeegstadium. Groot verliese kan voorkom wanneer vlagblaar en twee laer blare geïnfekteer word.


Septoria nodorum (Bruinaar)

STREEPROES BY KORING (PUCCINIA STRIIFORMIS)

Langwerpige, heldergeel tot oranjekleurige strepe van wisselende lengte wat parallel met die blaarnerwe voorkom. Die strepe bestaan uit roespuisies waarin die swamspore gedra word.

Streeproes is op sy skadelikste wanneer blaarinfeksie voor stoelvorming begin en tot die sagte deegstadium duur. Vroeë infeksies sal planthoogte, strooimassa, aantal are, aantal pitte per aar en saadmassa verminder.

Die swamspore benodig vog en lae temperature vir ontkieming en gevolglike infeksie van die plant. Infeksie kan plaasvind vanaf 2 °C tot 15 °C met ‘n optimum van 11 °C. Gebiede met dag- of nagtemperature van minder as 15 °C wat gepaard gaan met gereelde dou, mis, reën of oorhoofse besproeiing, moet as risiko-areas beskou word. Die swamspore word maklik met wind versprei. Streeproes is nie ‘n saadgedraagde siekte nie


Puccinia striiformis (Streeproes)

TAN SPOT BY KORING(PYRENOPHORA TRITICI – REPENTIS)

Tan spot word deur die swam Pyrenophora tritici-repentis veroorsaak. Tan spot word gekaraktiseer deur ‘n ovaalvormige donker vlekkie wat omring word deur ‘n geel rand. Die swam word bevoordeel deur ‘n monokultuur stelsel van koring na koring. Bromus spp. (Predikantsluis) is ook ‘n gasheer van die swam. Verder oorleef die swam ook op die graanstoppel. Reënerige, mistige toestande, veral waar die blare nat is vir 12 ure, bevoordeel die ontwikkeling van die swam.

Groot verliese kan gedurende graanvulperiode voorkom, wanneer die fotosintese oppervlak van die boonste blare verminder a.g.v. die vlekkies wat vergroot. Waar die vlekkies in groot getalle voorkom, vergeel die blare, wat die land geel laat vertoon. Die onderste ouer blare word eerste aangetas, waarna dit na die boonste blare versprei soos die siekte ontwikkel


Pyrenophora tritici – repentis (Tan spot)

STAMROES BY KORING ( PUCCINIA GRAMINIS F.SP. TRITICI)

Verhewe oranje-rooi puisies kom op blare, blaarskede, are en stamme van vatbare kultivars voor. Met ligte infeksies is die puisies gewoonlik apart en

verspreid, maar met erge infeksies smelt hulle saam om ‘n kors te vorm. Puisies is lank en dun en bestaan uit urediospore wat later swart word en teliospore bevat.

Epidemies ontwikkel op dieselfde manier as blaarroes, behalwe dat stamroes warmer klimaatstoestande vir infeksie benodig.

Laat aangeplante koring is gevolglik meer vatbaar vir stamroes. Die siektekan skielik in vry vog en by temperature van 20 °C of hoër ontwikkel. Met erge infeksies op vatbare kultivars kan groot oesverliese voorkom.


Puccinia Graminis F.SP. Tritici (Stamroes)

Bostaande foto word geplaas met erkenning aan Robert Park, ACRCP

VIRUSSIEKTES OP GARS

“Yellow Dwarf”

Dit word veroorsaak deur hawerluise, wat deur sapsuiging die virus in die plant oordra. Die virus vernietig die bladgroen van die ou sowel as jong blare. Die helder borriegeel plante kom baie opsigtelik (kol-kol) op die land voor.


“Yellow Dwarf Virus”

WANNEER MOET ‘N LAND GESPUIT WORD?

‘n Reeks faktore moet in aanmerking geneem word, voordat ‘n land gespuit word:

  • Potensiaal van land.
  • Helling van land.
  • Digtheid van stand.

Die optimum tye is soos volg:

i) Koring: nadat die vlagblaar verskyn het en die aar net-net wil uitkom.

ii) Gars: Eerste bespuiting tussen 8 - 11 weke na saai.

‘n Opvolgbespuiting 3 - 4 weke later.

Die bogenoemde is net riglyne. Die jaar se klimaat / siektedruk speel ook ‘n belangrike rol in die besluitneming van wanneer gespuit moet word, al dan nie.

GEREELDE INSPEKSIES tydens groeifase is egter baie belangrik om swamsiektes betyds te identifiseer en vroegtydig op te tree indien nodig.

JANNIE BRUWER

AKKERBOUKUNDIGE

Voortrek St. 34
Swellendam
6740

T 028-514 8600
F 028-514 8903
E agriculture@ssk.co.za

Besigheidsure
Maandag - Vrydag 07:30 - 17:00

Downloads
Masjien Loopkostes Blitsgids (XLSX | 199 KB)

Ha Gesaai Omsendskrywe 2017 (DOC | 272KB)

Masjinerie Koste Gids (PDF | 3.34MB)

Faktore Wat Kultivarkeuse Beïnvloed (PDF I 213KB)

Korrekte Lek Aanvullings vir Optimale Diereproduksie (PDF I 212KB)