SSK-raadslede is almal boere en die landbou lê hulle na aan die hart. Hulle spog met eerstehandse kennis van die bedryf en lei SSK om sukses te verseker vir ons lede se besighede. Hulle stel dit hul prioriteit om te verseker dat die organisasie aan die wense van die lede sowel as die gemeenskap voldoen.
Raad van Direkteure
Dirk van Papendorp
Dirk van Papendorp is die derde geslag Van Papendorp’s op die familieplaas Voorstekop in die Heidelberg distrik. Hy voltooi sy skoolloopbaan in 1982 aan die Hoërskool Heidelberg. Hy verwerf sy BSc. Agric. graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1986. Na die voltooiing van sy weermagopleiding behaal hy ook sy Hons. (landbou-ekonomie) aan dieselfde Universiteit. Hy begin hierna boer op die familieplaas waar hy ook verskeie posisies in die georganiseerde landbou beklee onder andere sekretaris van die Heidelberg boerevereniging, lid van die Landelike Raad, voorsitter van die GraanSA kanola bedryfskomitee en bestuurslid vir Streek 27. Dirk is ook nou betrokke by Suurbraak Grain Farmers’ Koöperatief waar hy as mentor en direksielid nou betrokke is by die opheffing van gewillige opkomende graanboere in die Suurbraak gemeenskap. Hy is getroud met Retha en saam is hulle geseënd met vier pragtige dogters wat die plaaslewe in oorvloed saam met hulle geniet.
Schalk Viljoen
Thys Odendaal
Johann Muller
Johann Muller is gebore op 6 Januarie 1980 in Mosselbaai. Hy matrikuleer op Hoër Landbouskool Oakdale. Na matriek speel hy rugby vir die Sharks (kaptein) asook vir Ulster in Noord-Ierland en word tot Springbok verkies waar hy ook as kaptein instaan.
Hy boer vanaf 2014 op die familieplaas, Patrysfontein, naby Mosselbaai saam met sy pa Quintus en ouer broer Ignatius. Die boerdery fokus op vleisbeeste, ‘n melkery en verbouiing van graan (canola, hawer, koring en gars). Hy is getroud met Mariska en hulle het 3 kinders, Anja, Juann en Alissa.
Adriaan Steyn
Adriaan het in 1995 aan die Hoërskool Oakdale op Riversdal gematrikuleer. Daarna het hy die graad B Agric Admin by universiteit Stellenbosch verwerf. Adriaan is tydelik as Direkteurslid aangestel in Augustus 2008 waarna hy in 2009 permanent deel geword het van SSK se direksie. Hy is ook direkteur by Soill. Hy het eers in Noord- Amerika gaan werk voordat hy begin boer het saam met sy Pa (Dirkie) in 2001. Hy bly op die plaas Wankie in Heidelberg distrik. Hy en sy vrou Letetia het drie seuns. Die boerdery bestaan 100% uit kontantgewasse. Bewaringsboerdery is sy passie.
Thys Streicher
Thys matrikuleer in 1999 by Hoërskool Swellendam. Daarna voltooi hy ’n Landboubestuurskursus op Saasveld, George. Hy begin in 2003 saam met sy pa boer in ‘n gemengde boerdery naby Swellendam en fokus tans op die graan‐ en skaapvertakking op die plaas. Thys is getroud met Sané, ‘n onderwyseres op Swellendam.
Johannes Joubert
Hampie Lourens
Hampie het grootgeword net buite Swellendam op hul familieplaas, Mopama. Hy matrikuleer aan Hoërskool Swellendam in 1990, waar hy ook as Hoofseun dien. Hy verwerf hierna die grade B.Comm, B.Comm (Hons), asook M.Comm (Vervoer Ekonomie) aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy ondergaan opleiding by HES-ISER (School of International Economics, Rotterdam, Nederland) asook Bidvest se Uitvoerende Bestuursopleiding by Wits Besigheidskool.
In 2018 keer hy en sy gesin terug na Swellendam en Lourens Broers Boerdery toe. Hy was voor dit vir 20 jaar werksaam in die korporatiewe sektor, onder andere by Bidvest SABT (South African Bulk Terminals), waar hy van 2010 tot 2018 Besturende Direkteur was. Die grootste gedeelte van sy ervaring is opgedoen in bestuursposisies by maatskappye met noue betrokkenheid in die landbou sektor. Hier kry hy blootstelling aan hoëvlak strategiese besluitneming met industrie leiers in die Suid-Afrikaanse en internasionale besigheidswêreld.
Jonathan Barry
Jonathan het grootgeword op hul familieplaas, Lismore, buite Suurbraak in die Swellendam distrik, en matrikuleer in 2000 te Hoërskool Swellendam. Hy studeer aan Prestige College waar hy MSCE, MSCD asook Network Integration en Systems Technology kwalifikasies behaal. Gedurende hierdie tyd dien hy op die Studenteraad, asook as Primarius van sy koshuis. Na afloop van sy studies gaan werk hy in Engeland as Dosent in Inligtingstegnologie. Hy keer in 2007 terug na Suid-Afrika en boer sedertien voltyds op die familieplaas.
Jonathan dien as Voorsitter van die Suid-Kaap Jersey-klub vanaf 2009 tot 2011, waar hul gedurende hierdie tyd die suksesvolle Suid-Kaap Kudde Kompetisie loods, wat steeds vandag gewild is. In 2015 word hy verkies tot die Wes-Kaapse Bestuur van die Melk Produsente Organisasie (MPO), ‘n posisie wat hy vandag steeds beklee. Hy word verder verkies as Direkteur van Mooivallei Suiwel gedurende 2019. Hy is ‘n suiwelboer in hart en siel. Hy is getroud met Mariëtte en het 3 kinders.
Johann Reinecke
Johann de Villiers Reinecke boer op hul familie plaas op Molenrivier in die Bo-Langkloof distrik onder die naam Reddot Farms. Hy is die vierde generasie op die plaas. Johann matrikuleer in Oudtshoorn in 2006 en verwerf daarna ‘n B Agric graad by die Universiteit van Stellenbosch. Hy en sy span fokus op sagtevrugte- en beeste vertakkings.
Hy is getroud met Alicia en hulle het twee seuns Otto en Milan.
Pieter de Jager
Pieter de Jager het grootgeword op die plaas Swartklip in die Albertinia omgewing. Hy matrikuleer in 1997 aan die Hoër Landbouskool Oakdale waarna hy die N.Dip asook B.TECH en M.TECH grade in Landboubestuur by NMMU verwerf.
Pieter glo dat gesonde finansiële bestuur, die gebruik van die nuutste tegnologie en die regte insetverskaffers as handelsvennote in jou boerdery van kardinale belang vir volhoubaarheid is. Hy is in 2023 deur GraanSA aangewys as Graanprodusent van die Jaar.
Pieter is getroud met Marié en hulle het 3 kinders.