SSK, ‘n gevestigde, dinamiese en gediversifiseerde landbou- onderneming, beskik tans oor die volgende vakature by hul Hoofkantoor te Swellendam.

BESIGHEIDSANALIS: GRAANDIENSTE

Die suksesvolle kandidaat sal aan die Hoofbestuurder: Graandienste rapporteer en moet oor ‘n toepaslike tersiêre kwalifikasie (bv. BCom: Bestuursrekeningkunde met CIMA kwalifikasie of BBA) en ten minste vyf jaar bewese bestuurservaring beskik, goed tweetalig wees en akkuraat onder druk kan werk. Die posbekleër sal primêr verantwoordelik wees vir die identifisering van besigheidsbehoeftes en oplossings by SSK se Graandienste afdelings, asook die fasilitering van die wisselwerking tussen die onderskeie belanghebbendes en implementering van die verbeteringsaksies. Die posbekleër sal onder andere ook verantwoordelik wees vir die volgende:

  • Analiseer data en besigheidsprosesse om areas van verbetering te identifiseer
  • Ontwikkel en implimenteer besigheidsoplossings soos beleidsraamwerke, standaard operasionele prosedures en stelsels om sodoende effektiwiteit voortdurend te verbeter
  • Monitor projekvordering en kapitaal spanderings
  • Identifiseer en mitigeer besigheidsrisiko’s
  • Monitering en nagaan van uitsonderings, verslae en joernale
  • Nagaan van inkomste en koste berekeninge en vergelykings
  • Betrokke by die implementering en uitbreiding van BI (Besigheidsintelligensie) Stelsels
  • Ad hoc take soos van tyd tot tyd toegedeel

    Sterk analitiese- en probleemoplossingsvaardighede, goeie projekbestuur en besigheids- en onderhandelingsvernuf, interpersoonlike- en kommunikasievaardighede asook rekenaarvaardigheid (MS office pakket, SAP, Qlik platvorm) met ‘n geldige kode EB (Kode 8) bestuurslisensie, is verdere vereistes. Kennis van Landbou- en Graan- verwante aktiwiteite sal u aansoek versterk.

In ruil vir u prestasie en bydrae tot SSK se sukses en groei bied ons, ooreenstemmend met u kwalifikasies en ervaring, ‘n mededingende alles-insluitende vergoedingspakket.

Aansoekvorms is beskikbaar op SSK se webblad by www.ssk.co.za of kan by hr@ssk.co.za aangevra word. Rig u aansoek, tesame met ‘n dekbrief en ‘n bondige CV, met vermelding van verwagte vergoeding en ‘n kontaknommer asook ten minste drie kontakbare referente, aan Die Senior Bestuurder: Menslike Hulpbronne om ons te bereik nie later as Vrydag 9 Augustus 2024. U kan u aansoek e-pos aan alwyn.burger@ssk.co.za.

Neem kennis dat, indien u geen terugvoering van die adverteerder binne een maand na sluitingsdatum ontvang het nie, u kan aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was. SSK is ‘n gelyke- geleentheid werkgewer.